Eendrag
10 Julie 2020
Deur Englie Botha
Vandag wil ek my net vir ‘n slag uitlaat oor die toestande van ons dorpe en paaie.
Ons moet gereed wees om weer te kan opbou en dit kan ons net bereik in EENDRAG.
Ek reis baie a.g.v die uitreike met kospakkies en die hoë aanvraag daarvoor. Die gevolg is uitreike in die rigting en omgewing van die uithoeke van Gauteng. Die behoefte vir kospakkies is enorm a.g.v die aaklige COVID-19 inperking wat veroorsaak dat ‘n magdom van ons mense hulle inkomste verloor. Tyd is dus ‘n faktor, want soveel mense moet bereik word en dan moet mens aansukkel tussen slaggate deur teen 30km per uur.
Sommige van hierdie slaggate is so groot dat jy met jou hele voertuig daarin kan vasval. ‘n Uitreik in die rigting van bv. die Oos Rand, word verleng met tussen ‘n uur tot 2 ure a.g.v die vertragings weens die slakkepas wat mens moet handhaaf. Dit het tot gevolg dat meer reise in al die verskillende rigtings onderneem moet word om ons mense te bereik. Die gate is van so aard, dat jy jou voertuig se bande beslis sal beskadig indien jy daardeur sou ry. Die geswenk van link na regs by sommige plekke om die slaggate te vermy, maak mens naar.
Die toestand van ons land is ellendig –Die reis deur die Oos Rand is vir my bitter hartseer, dit is dorpe waar ek by familie en vriende gereeld gaan kuier het, strate waar ons in vrede kon stap en in die aande vensterinkopies kon doen. In hierdie tyd is mens te bang om helder oordag jou voertuig te verlaat. Bouvalle begroet jou in elke eens trotse dorp en streek en die ergste is dat dit wat winkels was, nou bewoon word in die bouvallige toestand wat dit is. Dit sien mens dadelik, want rommel bedek die aarde rondom en wasgoed is gedrapeer oor elke paal en heining.
In die Carletonville streke is die prentjie nie veel beter nie en die Vaaldriehoek is ook ‘n aaklige gesig om te aanskou. Van dorp na dorp lê rommel tot teenaan hoofpaaie gestrooi. In die sonlig weerkaats rye op rye sinkgeboue in amper elke rigting wat jy kyk en by geen van hierdie informele dorpe wat duisende huisves, is daar ‘n boom in sig nie. Verwarrend genoeg, is daar wel aan elke gebou ‘n satellietskottel geheg. Wanneer die wind van hierdie areas se rigting oor die aarde waai, is dit net stof en rommel wat aangedra word, wat veroorsaak dat jy skaars die pad kan sien, die pad vol slaggate. Die woede en vrees wat jou beetpak, is oorweldigend soos jy vorentoe aansukkel.
Nog niks is opgebou in die hele sogenaamde demokratiese tydperk nie. Daar word net gemors, afgebreek, verbrand, verwoes en dan word ons nog ook beskuldig van diefstal van die land. Die ergste van alles is die aanslag en moord op ons boere. Die land moet kamtig teruggeneem word, om wat mee te maak? Oral word daar rye en rye behuising gebou en oral word daar geplak… Geen industrieë word daar naby opgerig nie en boonop word geen landerye in die omgewing daarvan bewerk nie – waar moet hierdie hordes inwoners dan inkomste genereer en gewasse aanplant?
Ek kan aanhou skryf en vele negatiewe punte uitlig, maar dit gaan niks verander nie. Dit help ook nie om te sit en wag dat ‘iemand iets doen nie’.
Kom ons begin elkeen by onsself. Help met skenkings en finansiële bydraes na ‘n organisasie wat druk besig is om ‘n verskil te maak. Ons by ToekomsVonk wil nie net kospakkies uitdeel nie, alhoewel ons, ons mense intussen aan die lewe moet hou. Ons wil ons mense selfonderhoudend kry so gou as moontlik en het genoegsame kennis en ook planne in plek om ‘n enorme verskil te kan maak – Al wat ons nodig het, is jou ondersteuning.
Alles het ‘n klein begin, maar tyd vir klein treetjies het ons nie meer nie. Ons kinders se toekoms in hierdie land is op die spel of gaan ons maar toekyk hoe nog meer die land verlaat of erger, in wit informele nedersettings opeindig. Staan ‘n R100 of dalk R50 ‘n maand af aan ToekomsVonk waar jy weet jou bydrae vir dit gaan wat belowe word, plant groente in jou tuin vir eie gebruik en om te deel en die belangrikste: Bid saam, wees daar vir mekaar en kry jou volkstrots terug. Ons moet gereed wees om weer te kan opbou en dit kan ons net bereik in EENDRAG.